Grobbelaar, Pieter W.

Pieter W Grobbelaar 2

Skepper van

Jakkals- en Wolfstories oorlede

Pieter Willem Grobbelaar is op 25 Desember 1930 in Bloemfontein gebore, waar hy ook gematrikuleer het aan die Sentraal Hoërskool.  Hy studeer Filosofie aan die Universiteit van die Oranje Vrystaat en behaal ‘n doktorsgraad aan die Universiteit van Stellenbosch, waar hy ook ‘n professor was in die Departement van Afrikaanse Kultuurgeskiedenis vanaf 1984 tot 1996.

 

Pieter W. Grobbelaar was die outeur van “Die Afrikaaner” en het ook die radioprogram “Ons Erfenis” aangebied. Hierdie man, wat volksverhale en Afrikaanse rympies by “mense gaan haal” het en dit tot in die huise van lesers gebring het, is op 19 Januarie 2013 in ‘n outehuis op Worcester oorlede op die ryke ouderdom van 82 jaar, kort nadat sy vrou, Cornelia, aan die einde van Desember 2012 ook oorlede is.

 

Hy word beskou as die belangrikste skrywer van Suid-Afrikaanse volksverhale – wat hy met die grootste sorg en liefde versa

 

mel, opgeneem en neergeskryf het – uit ’n magdom van bronne wat nie net in Suid-Afrika nie, maar oral oor die wêreld geraadpleeg is.

 

Hy ontvang die C. P. Hoogenhout-toekenning in 1968 vir Die mooiste Afrikaanse sprokies (1968); die Tienie Holloway-medalje in 1971 vir al sy kleuterboeke wat geskik is vir hardop voorlees; die Katrine Harries-toekenning in 1985 en 1989 onderskeidelik vir Die aarde moet vry wees (1984) en Lank lewe Leeuhart (1987). Laasgenoemde verower ook die eerste prys in Daan Retief Uitgewers se wedstryd vir kinderboekillustrasies en in 1989 die Katrine Harries-prys. Hy ontvang ook herhaaldelik eervolle vermelding van die SABV. Die Genootskap vir Afrikaanse Volkskunde en die ATKV vereer hom in 1972 en 1975 onderskeidelik met ‘n oorkonde vir sy werk oor die Afrikaanse volksvertelling en met ‘n erepenning vir sy volkskundige geskrifte. In 1976 vereer die Federasie vir Rapportryerskorpse hom met ‘n toekenning vir sy werk oor die Afrikaanse volksrympie.

Sy skoonseun, Dawid van Lill, het vertel Grobbelaar het die hele land vol gereis om “stories by mense te gaan haal”. Hy het agter stories aangegaan om dit by die bron te kry, en veldwerk saam met studente gedoen. Volksverhale en -rympies het hy gaan kry op plase by mense.  Hy het in alles belang gestel; elke dag al sy koerante gelees,” het Van Lill gesê.

 

“Met sy heengaan verloor ons ’n belangrike skrywer en kultuurhistorikus. Maar hy het ook leesplesier verskaf. Vir my as kind was Die mooiste Afrikaanse sprokies my gunsteling-boek. Dié werk, moontlik sy bekendste boek, het in 1968 verskyn, en is sedertdien verskeie kere heruitgegee en steeds in druk” – Aldus Marga Stoffer, uitgewersbestuurder van NB Uitgewers.  Maar die bekendste seker van al sy stories is die Jakkals en Wolfstories. Dit is ook onlangs herdruk.

Hy het vier kinders, Erika, Johannes, Marina en Francois.

 
Boeke steeds in druk

 

Kampvuurstories, (2011)
Klaas Naald-hulle, (2008)
Jakkalsdraf en Wolwedans, (2006)
Uiltjie, uiltjie in die spieël, (2006)
Doer in Dierlandy, (2005)
Aandstories vir kleuters, (2005)
Die mooiste Afrikaanse sprokies, (2003)
Famous South African Folk Tales, (2003)

 

Vir ‘n meer volledige lysie van al die boeke uit die pen van Grobbelaar, kliek op hierdie volgende skakel:  Grobbelaar boeklysie

 

Bibliografie:

http://www.stellenboschwriters.com/grobbelaar.html

http://www.nb.co.za/authors

Die Burger : Volksverhale en rympies was sy kos (2013-01-21)

http://www.storiewerf.co.za/cv’s/cv_pieterwgrobbelaar