Preller, Martie

JEUGSKRYWER Martie Preller 

2 November 1948

Preller, Martie

Sy is so verfrissend aards… en steeds verwonderd oor die lewe! deur Deborah Steinmair Martie Preller is ‘n geliefde en bekroonde kinder- en jeugboekskrywer. Hierdie skepper van Balkie, Babalela en ‘n magdom onvergeetlike karaktertjies wat volksbesit geword het, is verfrissend aards oor skrywerskap. Martie reken ons is almal skrywers, dat ons lewens stories is waaraan ons voortdurend skryf.

Dit laat my dink aan Adam Small se woorde: “ma djulle is die poets/ djulle wat innie straat in loep”. Martie sien haarself as ‘n by wat aan ander bye die ligging van die soetste blomme uitwys deur haar dans: “Miskien voer ek net ’n byedans in die nes van die lewe uit… Dis hoe ek my woorde wikkel en my idees plooi om te vertel van ’n plek waar mens baie rykdom, van die soort wat werklik verryk, kan kry.” Sy sien die lewe as ‘n reis en stories as reisverhale. “Van binne-reise. Plekke wat alle mense met mekaar deel en kan herken.” Sy verduidelik haar verstommende produktiwiteit só: “Dis omdat ek verwonderd is oor die lewe, oor mense, oor wat hulle doen. Ek is net so verwonderd (en geskok!) oor wat ek kan aanvang. Skryf is om op ‘n storiemanier te vertel hoe ek die lewe ervaar.” Sy is opgewonde oor die eindelose moontlikhede van die lewe. “Mense wat hul drome kan laat waar word op ander maniere as wat hulle ooit gedroom het, inspireer my. Mense wat hul ding doen sonder om ander te blameer of te misbruik, inspireer my.” Dit verskaf haar groot vreugde wanneer kleintjies (foto van Martie en die kinders) (en grotes!) hul voete stamp en brul: “Ek is ‘n Babalela. Los my uit!”  Haar filosofie is dat ons almal uniek is. “Ons hoort nie in bokse nie”.

Sy het as kind alles gelees wat sy in die hande kon kry en praat só oor haar kinderjare in Potchefstroom: “Hoëveld en meestal mielielande rondom die dorp. Ysig en witgeryp in die winter en hetig warm in die somer. Ek het onder die akkerbome grootgeword en op my fiets, op pad biblioteek toe, swembad toe en ja, natuurlik, skool toe ook! Die seisoenale verkleuring van die akkerblare is vir ewig ingeprent in my siel. Die blare wat verkleur het van liggroen tot groen tot donkergroen tot geelgroen tot bros en bruin en dan krakerig onder my voete verkrummel en kompos geword het vir nuwe groei en nuwe liggroen blare, was vir my van kleins af die organiese sirkelloop van die lewe. Ek vermoed nou, as ek terugdink, dat ‘n deel van my elke dag gefunksioneer het en ‘n ander deel op ander plekke geloop of gedroom het.”

Martie het eers op om en by veertig begin skryf en sedertdien vul haar betowerende boeke kinder- en klaskamers. Daar is min beroepskrywers in Suid-Afrika. Dus het ek haar so effens die kuns probeer afvra – dis nie aldag dat ‘n mens só ‘n suksesverhaal raakloop nie. Ek het gewonder waar sy opeens die moed gekry het om te begin skryf. Martie het *almelewe gesê sy wou skryf en op ‘n dag het ‘n vriendin, Susan Gouws, haar uitgedaag deur ‘n kort drama te bestel wat studente by Sebokeng Onderwyskollege vir die destydse ATO-kompetisie wou opvoer. “Toe is ek vas! Ek het ‘n baie kort Tsonga-legende verwerk in ‘n drama. Hulle het musiek bygesit en dit opgevoer – en die kompetisie daardie jaar gewen met die stuk! Ek het byna ‘n oorval gehad toe ek vir die eerste keer sien hoe die woorde wat ek op my bed met die hand lê en skryf het, lewendig geword het op die verhoog. Die sukses daarvan het my sekerlik “gekick-start”! Oe wow! Dalk kan ek skryf?” Daarna het Martie ingeskryf vir die Sanlamprys vir jeuglektuur. Sy was nie een van die finaliste nie, maar het ‘n baie aanmoedigende verslag gekry. Sy kon nie dink hóé om die manuskrip te verander soos hulle aanbeveel het nie, het begin twyfel soos Petrus voordat hy gesink het, en liewer Sielkunde gaan swot. “‘n Hele paar jaar later het ek weer ‘n boek probeer – dit was Jy en die draakakkedis, wat dadelik deur Van Schaik aanvaar is.

Oor die jare het nog ‘n paar stories nie ‘gewerk’ nie, waarvan sommige muteer het in ander stories.” Ek wou weet hoe die karakter Balkie ontstaan het. Weereens laat sy dit so maklik klink: “Elizabeth Pulles het my eerste boek Jy en die draakakkedis geïllustreer. Sy sien toe op ‘n dag ‘n lyfie onder ‘n bos, teken dit en gee dit vir my. Ek het die lyfie – naamloos – teen my muur vasgeplak en gehoop hy gaan dalk met my praat en vertel wie hy is! Hy het toe … uiteindelik – ná ‘n hele paar maande. Balkie. En toe het hy vir dertien jaar non-stop gebabbel.”

Martie het nooit “besluit” om vir kinders te skryf nie, dit het net gebeur. Sy reken dis omdat kinders nog nie “ordentlik” is nie. “Lang relase, al is dit hoe pragtig geskryf, verveel hulle en hulle sit die boek neer! Om vir kinders te skryf leer jou om stories te vertel. Of miskien skryf ek om die kind in myself te vermaak! Soos wat kinders groter word, word hulle meer sinies en ontnugter en kan amper nie meer magic raaksien nie. As ek vir kinders skryf, is ek volkome deel daarvan en dit laat my oë blink soos ek altyd hoop dit die leser of hoorder se oë gaan laat blink.”

Martie het ‘n Internet-storiemaakkursus ontwerp wat uitgeloop het op ‘n boek: Eendag was daar ’n storie!  Sy verduidelik hoe ‘n mens ander leer skryf. “Skepping gaan altyd met twyfel gepaard – niemand skryf uit ‘n reggepakte kas nie. Ek kon mense net “leer” dat hulle moet glo en ontdek wat hulself “geweet” het. Die aanslag was baie eerlik. Ek kan nie hulle drome laat waar word nie. Net hulle kan. Ek het net probeer moontlikhede oopmaak.” Sy glo dat om skeppend te wees, uit die maag meer as uit die kop kom. “Van die “slimste” mense wat ek ooit ontmoet het, was ‘n ongeletterde vrou wat my huis skoongemaak het. Sy het altyd beduie hoe ‘n mens ‘n worry langs jou op die grond moet neersit en aanloop en nie weer daarvoor kyk nie, want as jy kyk, vat jy dit weer. Sjoe! Wonderlik. Ek het graag geluister na haar wonderlike stories. Môre is die huis anyway weer vol stof. Wat maak dit nou saak?” Martie kry dit reg om van skryfwerk te lewe omdat sy ‘n groot verskeidenheid goed skryf. Haar boeke verkoop goed en bly meestal in druk. Sy het ook nie baie erg aan materiële dinge nie en “ek leef eenvoudig en basies sodat ek dit kan doen waaroor ek mal is.”

Geniet sy dit om te skryf of wroeg sy wanneer sy skep? “Ek is mal daaroor en aan die einde is dit net vreugde, maar die skryf self gaan soms gepaard met frustrasie en wanhoop. Ek het op die oomblik ‘n “hangende” prenteboek waarin die &^%$# albatros nie wou praat nie. En ek kan haar net so min “laat” praat as wat ek iemand anders kan “laat” praat! Dus moet mens maar mooipraat met die ^%$#@ ding en anders probeer luister en en en. Ai ja jai! En natuurlik gaan sy nie praat as ek na haar verwys as ‘n $%^&* albatros nie…”

Ek vra uit na haar boeke wat voorgeskryf is. “Die sogenaamde “tiener”boeke wat voorgeskryf is, was net stories wat later eers voorgeskryf is. Dis nie met die oog op “voorskryf” geskryf nie. Sommige van my boeke is “opvoedkundig” bedoel, maar weereens – net stories met ’n spesifieke opdrag, byvoorbeeld in die Balkie-boeke vir die skole deur Best Books moes daar byvoorbeeld verwysings wees na kommunikasiemiddels. Nou ja – dit was sappig om dit deel van die stories te maak. Ons moet mos almal kommunikeer!” Vra jy Martie uit na haar tipiese dag kom jy agter dat so iets nie bestaan nie. “Elke dag is anders en kom nie weer nie. Ek sit soms vir dae en nagte vasgekluister aan die rekenaar. Soms nie.” Mag ons oor haar skouer loer na waarmee sy op die oomblik besig is? Sy vertel vanTV-draaiboeke wat dalk gaan kom. “Alles is nog effe hangende met voorleggings en gedeeltes reeds gedoen en ander wat nog gedoen moet word. Ek wil nou meer daarvan doen – om stories te vertel op ander maniere. Verder karring ek met ‘n storie. Midde-in weet ek nie of ek snert beet het of ‘n great storie nie. Of dalk net ‘n flou een… Dus swyg ek maar liewers …” En ons sal maar moet wag en sien.

Een ding is seker: Martie Preller is ‘n hoogs inspirerende mens, iemand wat haar ding doen sonder om ander te blameer of te misbruik – ‘n dansende by wat die soetste blomme uitwys. Sy som ook haarself op wanneer sy aan die begin van Eendag was daar ’n storie die Franse skrywer Albert Camus aanhaal: I am not a philosopher and I know how to speak only of what I have experienced. Mag die &*%$# albatros binnekort begin babbel! Martie se oeuvre en boeke steeds in druk.

Prenteboeke • Ek is Simon  • Babalela • Diep, diep in ‘n donker bos • Balkie en die kleurdief • Skilpad sonder ‘n dop • Die eensame draak • Daar’s ‘n spook in my kas Kinderboeke • ’n Haas moet doen wat ‘n haas moet doen  • Op die spoor van die lesea-vanger • Die Balkieboek  • Jamie en Sebastiaan  • Afrika vertel • Balkie en die son se slaapplek  • Balkie en die woeste virus • Balkie en die lugrowers Jeugboeke • Anderkantland • My naam is Alexander en wat daarvan? • In die tyd van die ESOB • Droomvangers  • Maar my magtig Moesoek! • Die hart van Zeebak •  Jy en die dinosaurus • Volkleur heruitgawe van Jy en die draaiakkedis wat in 1992 deur J.L. van Schaik uitgegee is. • Jy en Hercules (LAPA – kies-jou-eie-avontuur-reeks) – volkleur heruitgawe van dié boek wat in 1993 deur J.L. van Schaik uitgegee is. • Jy en Toetenkat (LAPA – kies-jou-eie-avontuur-reeks) – volkleur heruitgawe van dié boek wat in 1994 deur J.L. van Schaik uitgegee is. (Al drie bogenoemde boeke is deur Alistair Ackermann geïllustreer) • Jamie en Sebastiaan 2 : die storiemol (voorlopige titel) saam met Martie Kruger as mede-outeur (LAPA) – illustrasies deur Vian Oelofsen • Emma en die blêg (voorlopige titel) • 2007: Jy en die dinosourus (LAPA) • 2007: Jy en Hercules (LAPA) • 2007: Jy en Toetenkat (LAPA) • 2008: Jamie en Sebastiaan en die storiemol (LAPA) saam met Martie Kruger • 2008: Lisa het ‘n plan (LAPA) • 2008/2009: Loebi-leesreeks (www.loebi.co.za) • 2009: Vandag is nie gister nie – ‘n spanningsverhaal vir volwasse lesers • 2009: Die land van stories – ‘n praktiese storiemaakkursus – Vir almal met ‘n liefde vir stories • 2009: Los ons uit! (LAPA) • 2009: Emma en die Bleg. (LAPA)  

Pryse en toekennings:

• 1994: Anderkantland (Tafelberg) – Sanlamprys vir Jeuglektuur (Silwer)

• 1996: Anderkantland (Tafelberg) – C.P. Hoogenhout-medalje

• 1996: Jy en Toetenkat (J.L van Schaik) – ATKV-kinderboektoekenning (uit druk)

• 1996: Daar’s ‘n spook in my kas (Human & Rousseau) – ATKV-kinderboektoekenning

• 1996: In die tyd van die ESOB (Tafelberg) – Sanlamprys vir Jeuglektuur

• 1998: In die tyd van die ESOB (Tafelberg) – Ererol van ***IBBY

• 2001: Die Balkieboek (Human & Rousseau) – Alba Bouwerprys vir Kinderlektuur

• 2002: Die Balkieboek (Human & Rousseau) – ATKV-kinderboektoekenning

• 2003: Babalela (LAPA) – Tienie Holloway-medalje

• 2003: Lisa het ‘n plan (foto) (LAPA) – Tienie Holloway-medalje (uit druk)

• 2004: Ek is Simon (Tafelberg) – M.E.R-prys vir Kinderliteratuur

• 2006: Diep, diep in ‘n donker bos (LAPA) – Tienie Holloway-medalje

 

Hierdie artikel het verskyn in Kakkerlak uitgawe 8 met pragtige foto’s by.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *