Inspirasie van dr. Liana Roodt

  • Chrisna
  • 04/01/2018
  • Comments Off on Inspirasie van dr. Liana Roodt
  • Hoop

Hier sit ek nou in 2018. Ek is agter met al my admin, my leeswerk, my huis, my vakansiewasgoed en die nuwe jaar is reeds 4 dae oud. Soos dit altyd gaan in ‘n nuwe jaar, het mens blinkende gedagtes van: leer meer oor dié, lees meer koerant of wens almal geluk met hul verjaarsdae, wees vriendeliker en so kan mens aanhou. Meeste mense beleef daardie soort van nuwejaarsindroom in ‘n mindere of meerdere mate…

In my weggooi en uitgooiproses (nog ‘n nuwejaarsding) kom ek op ‘n pak koerante af wat ek weereens jammerlik NIE gelees het nie. Maar,… oppad asblik toe, val my oog op die heel laaste koerant wat agterbly met die optelslag… “Die chirurg wat nie afstand hou” – Rapport 19 Maart 2017… Ek gaan sit terstond net daar teen die bed op die vloer en lees die artikel en kry sommer onmiddellik weer moed vir die lewe, want ons leef in ‘n samelewing wat selfsugtig voortploeter vir hul eie gewin. Dr. Liana Roodt, ‘n chirurg in ‘n Staatshospitaal, het egter weereens bewys dat mens dinge KAN verander in ons land – stukkie vir stukkie sonder om moed te verloor in die proses. Positiewe verandering!

Sy vertel in die berig waar Hanlie Retief met haar gesels hoe moeilik Woensdae-middae is omdat sy en haar chirurgiespan dan tussen 20 en 25 vroue moet inlig dat hul borskanker het. Die harde werklikheid is nooit maklik nie. Sy vertel hoe haar gemeenskapsjaar, waarna baie mediese studente opsien, destyds in Barberton se hospitaal “een van haar spesiaalstes was”. Dr. Liana hou van mense en dit het haar ook destyds genoop om Project Flamingo te begin. Toe is daar net ‘n saadjie geplant – vandag red dit lewens deurdat meer operasies vinniger gedoen kan word – ook oor naweke – sodat vrouens, nadat hul die tyding van borskanker ontvang het, nie meer so lank as 3 maande hoef te wag vir ‘n operasie nie…

Dr. Liana Roodt is verseker presies daar waar sy geroep is om te wees. ‘n Beroep wat jou laat stryd voer die een oomblik en laat jubel die volgende oomblik en met blink oë elke dag aan te pak vir ‘n moontlikheid van hoop…

Sy vertel aan Hanlie Retief: “Daar is tye wat ek dink ek moet my afstand hou. En dan dink ek nee, weet jy wat, néé. Ek leer so vrek baie elke keer as ek bereid is om ‘n bietjie oop te wees vir wat aan die ander kant van die tafel aan die gang is. En dis tog op die ou end hoekom ek dit doen.”

Ons hoor elke dag die negatiewe kommentare van ouers wat prontuit voor hul grootwordende kinders sê: “Daar is nie toekoms vir ons kinders in ons land nie.” Of mense wat sinies bly kommentaaar lewer vir ure en ure oor wat ons president NIE doen nie of aangevang het. Vaderland mense, word wakker en bepaal jou by jou eie roeping en waarvoor jy in die wieg gelê is. Ek is doodseker dat ons ELKE dag ‘n dr. Liana-storie iewers uit die hoed sal kan ruk. Ons moet leer om deur ander oë na die wêreld (en veral ons eie land waar ons geplant is) te kyk…